Alleen tussen vele
Die eensaamheid in 'n welige skaar
Bly steeds die gewoel so alleen in die war
Van vele wat vreemd is, vergaar om jou heen,
En jou dan beklem as jy tog so alleen,
Alleen, in die skare en ver is van jou Geliefde.
En diep in jou hart bly die trou
Wat jy voel beweeg, en jy wil ook nie deel
In menslike vrolikheid wat om jou speel.
So is die gevoel wat jou siel so beklem;
Dis wanneer die deernis die ergste oorwen,
En jy dan verlang om by hartsvrou te wees,
Nie net in jou hart, maar in wese en gees.
Want dan is jy naby die keus van jou hart,
En weg is die lyding, verlange en smart
Wat jou wil oorrompel, en jou onderkry
Met vele gedagtes, maar trou wil jy bly.
Jy bly in jou siel die verwesenliking
Van alles wat goddelikheid in jou bring;
Omdat jy nie deel en gemeensaam wil wees,
Met dit wat uitblom uit verderwing se gees
In jou wil verdring, en omver dan wil gooi,
Dit alles wat rein is en edel en mooi
Maar dit is wat heiligheid altyd sal bly.
Die krag van jou kindskap van God het verkry.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 16 Mei 1981